Verhoudings
Wat kan gelukkige paartjies ons vertel?
Oor verhoudings is daar die afgelope tyd in die media baie geskryf en gepraat. Wat maak dat paartjies regtig gelukkig getroud is?
In ʼn studie is 351 getroude paartjies wat 15 jaar en langer getroud is gevra om uit ʼn lys van 39 stellings die stellings te kies wat die beste beskryf oor hoekom hulle steeds getroud is en dan ook gelukkig getroud is. Hier is die resultate:
Vriendskap:
Diep en volhoubare vriendskap was die belangrikste rede wat paartjies gegee het vir hulle gelukkige en volhoubare verhouding. Beide mans en vrouens het saamgestem en gesê: “My man/vrou is my beste vriend”. Ander stellings wat gemaak is verduidelik hierdie ervaring verder nl.; “Ek hou van my maat as mens”; “My maat het gegroei en meer interessant geword”; “Ons lag saam”; “Ons het dieselfde stokperdjies en belangstellings”;
Verbintenis (commitment):
Gelukkige paartjies bevestig dat ʼn sterk verbintenis belangrik is vir ʼn verhouding en stem saam met die stelling dat ʼn huwelik ʼn lang termyn verbintenis is. Albei se ingesteldheid is dat hulle die verhouding wil laat werk, dat daar soms slegte tye kan wees, maar dat daar niks is wat nie opgelos kan word nie.
Humor en ooreenkomste:
Humor is onteenseglik een van die belangrikste redes waarom paartjies mekaar se teenwoordigheid geniet. Humor kan konflik ontlont en stres verminder. Humor kan ook die saamwees meer vreugdevol maak. Paartjies wat ʼn soortgelyke humorsin deel, deel iets dieper nl. ʼn passing van persoonlikhede en emosionele oriëntasies. Die idee dat iemand iets komies kan sien en ervaar is ʼn venster op sy/haar persoonlikheid. Om te lag is ʼn emosionele reaksie wat min mense kan voorgee.